Engelrokke vir ‘verlore babas’

Dit is ʼn tyd van uiterste verdriet. ʼn Modeontwerper van Gordonsbaai het ʼn spesiale projek begin juis om ouers wat babas verloor het, te help.

The Angel Gown® Initiative (TAGI) is in Junie deur Erik Elronde begin nadat ʼn vriendin hom genader het om haar trourok in engelrokkies te verander. Elronde is ʼn ontwerper wat trourokke maak.

Erik Elronde sit by van die engelrokkies wat hy reeds gemaak en geskenk het. Foto: Erik Elronde

Hierdie engelrokkies dien ʼn spesifieke doel vir babatjies wat nooit na hul aardse huise sal kan gaan nie, verduidelik Elronde.

Sondag is internasionale swangerskaps- en die verloor van ʼn babadag.

“Die rokkies is geskenke aan die ouers wat ʼn baba verloor het. Dit is iets spesiaal waarin hulle hul baba na die hiernamaals kan stuur.”

Die skêr en gare wys hoe klein hierdie engelrokkies eintlik is.Foto: Erik Elronde

Elronde het gesê die inisiatief het in Junie begin toe ʼn vriendin van hom gevra het om ʼn engelrok van haar trourok te maak.

Trourokke word losgetorring en die engelrok met die hand gemaak, nes ʼn trourok gemaak sou word, met dieselfde elegante afwerkings.

Hierna word dit gratis aan hospitale uitgedeel sodat dit onder gesinne wat babas verloor het versprei kan word.

In die afgelope vier maande het Elronde reeds sowat 61 trourokke ontvang en hiervan het hy omenby 102 engelrokkies gemaak. In die afgelope week het hy 47 rokke van ʼn anonieme skenker gekry.

Elronde verduidelik in Brittanje, Amerika en selfs Australië is dit ʼn baie gewilde ding, maar nie in SA nie.

“Daar is duidelik ʼn groot aanvraag vir die rokke,” het hy gesê.

Nog ʼn voorbeeld van ʼn engelrokkie wat Erik Elronde gemaak en geskenk het. Foto: Erik Elronde

Daar is vier groottes wat Elronde maak, naamlik micro (0,6 kg tot 1,1 kg), tiny (0,9 kg – 1,8 kg), preemie (1,3 kg – 2,7 kg) en newborn (2,2 kg – 3,6 kg).

Elke skenking word noukeurig geboekstaaf en skenkers word bedank.

Van die hospitale waar Elronde al engelrokkies gaan skenk het, is by die onderskeie MediClinic-hospitale in Vredendal, Paarl en Stellenbosch.

“Die inisiatief het nou ʼn lewe van sy eie gekry,” het Elronde gesê.

Mense wat belangstel om betrokke te maak, kan Erik kontak op TAGI@erikrhouse.com of op Facebook