Deur Jana Breytenbach 08 Oktober 2018 06:04
Wat ’n guns sou wees vir een vrou het ’n nasionale organisasie geword wat ouers wat babas verloor het, help.
The Angel Gown® Initiative (Tagi) is in Junie verlede jaar deur Eric Elronde, ’n modeontwerper van Gordonsbaai, begin.

Binne ’n jaar het Elronde die verspreiding van sy engelrokkies tot 28 hospitale landwyd uitgebrei, met bestellings wat nou van so ver as Namibië kom.
’n Vriendin van Elronde, wat as ’n suster by die Vredendal-hospitaal gewerk het, was die inspirasie vir dié rokkies. Sy het hom gevra om ’n “engelrokkie” van haar trourok te maak. Dit was by dié hospitaal waar hy sy eerste rokkie oorhandig het.
Hierdie engelrokkies dien ’n spesifieke doel vir babatjies wat nooit na hul aardse huise sal kan gaan nie, sê Elronde.
“Toe Tagi begin het, was my eerste behoefte om ouers te help wat babatjies by geboorte aan die dood moes afstaan. Van daar was dit vir my wonderlik om te sien hoe die gemeenskap saamstaan om ou klere, lappe en so meer te skenk om hierdie ouers, wat hulle glad nie ken of eers sal ontmoet nie, deur so ’n seer tyd te help.”
Oktober is die bewussynsmaand vir swangerskap en babaverlies met die internasionale dag wat op 15 Oktober herdenk word.

Elronde het gesê die rokkies is geskenke aan die ouers wat ’n baba verloor het. “Dit is iets spesiaal waarin hulle hul baba na die hiernamaals kan stuur.”
Trourokke word losgetorring en die engelrok met die hand gemaak, nes ’n trourok gemaak sou word, met dieselfde elegante afwerkings.
’n Jaar nadat hy begin het, was die aanvraag so groot dat hulle wegbeweeg het van die geslagsneutrale rokkies en spesifiek vir seuns en dogtertjies rokkies maak.
Hierna word dit gratis aan hospitale uitgedeel sodat dit onder gesinne wat babas verloor het, versprei kan word.
Elronde het gesê in die afgelope jaar het Tagi altesaam 115 trourokke, 95 aandrokke, 9 dooprokke en meer as 200 dasse ontvang.
Altesaam 441 is engelrokkies gemaak.
Tagi het in die afgelope jaar die status verwerf van nieregerings- sowel as liefdadigheidsorganisasie. Twee van die groot private hospitaalgroepe, Netcare en MediClinic, het formele ooreenkomste met Tagi om die engelrokkies landwyd te versprei. Rokkies word aan 13 takke van elke hospitaalgroep versprei. Tagi het dieselfde ooreenkoms met twee staatshospitale.
Elronde het gesê omdat hulle net met hospitale werk, kom hy nie in kontak met die ouers nie.

Daar is wel baie ma’s wat vyf, tien en selfs 30 jaar gelede ’n baba verloor het en wat hul trourokke skenk.
“Die wete dat hul rok nou ander ouers kan help wat ook dié hartseer beleef, bring uiteindelik vir hulle genesing en help hulle om finaal daai hoofstuk af te sluit.”